Breekbaar
Dieter Voigt
7/16/2010
Ek is besig om die glas te was en is eintlik heel tevrede met die poging, totdat ek hom op die droograk wil sit ... Daar sit dit – die oorblyfsels van gisteraand se sap en ek het dit sowaar met my waspoging gemis! Met mening pak ek die hardnekkige stuk vullis. Te veel mening! ‘n Glas ís breekbaar onder te veel druk.
Ek besef eers die volle implikasie toe ek sien hoe diep die skerf my hand tussen my duim en wysvinger oopkloof. Die bloed stroom. Die drama stop vir eers hier (maar ek was verbaas hoeveel bloed nodig is om skottelgoedwater pienk te maak)!
Verhoudings kan soms met 'n glas vergelyk word: Dit kan baie mooi skitter as dit skoon is of dit raak dof as mens nie die regte, opbouende dinge daarin sit nie. Die vullis kan natuurlik weggewas word met 'n jammer sê, vergifnis en weer probeer - dit is soos ‘n goeie skottelgoedwas-sessie en kan die verhouding weer mooi laat blink.
Soms druk die partye te hard op hierdie sterk, maar ook breekbare verhouding. ‘n Breuk is dikwels die gevolg. Moderne gom is goed, maar nog nie so goed dat ‘n gebreekte glas volkome herstel word nie. (Ek het al een van my ma se teekoppies se ore probeer plak, dit hou nie!) Verhoudingsgom sukkel om permanente krake te verbloem. Net God kom maak weer heeltemal nuut.
Seerkry Wanneer jy deesdae by 'n bank instap, moet jy deur ‘n sekuriteitsingang loop. Die deur agter jou moet eers toegaan voordat die deur voor jou kan oopgaan. Soms werk dit in verhoudings ook so. Jy moet eers die deur agter jou toemaak voordat jy by die nuwe deur kan ingaan. Hulle sê “hurt people hurt people”. Ons het ‘n verantwoordelikheid om seker te maak dat ons eie seer nie veroorsaak dat ons ander verwond nie. Ons as Christene moet ons seer na die Groot Geneesheer neem sodat Hy dit kan gesond maak.
Wanneer ‘n verhouding jou emosioneel afbreek, moet jy sterk genoeg wees om die deur toe te maak. Ons kan niemand help as ons self teen die planke is nie. Ons moet ons harte beskerm en ook mooi kyk na ons eie emosionele gesondheid. En soms moet jy kan “nee” sê vir beter, sodat jy kan “ja” sê vir die beste.
Om pleisters vir ander uit te deel is ‘n baie belangrike beginsel in koninkryksbou, maak net seker dat jy nie dalk self besig is om dood te bloei nie - die Groot Hartchirurg help jou om ook dié seer raak te sien. Laat Hom toe om elke dag saam met jou op die reis stap.
|
Dieter Voigt
Dieter Voigt is 'n avontuurlustige man wat gedryf word deur sy passies vir God, mense, avontuur en die lewe. Hy het vir vyf jaar sy passies uitgeleef as onderwyser voordat hy die Mnr Suid-Afrika kompetisie in 2007 gewen het. Deesdae is hy 'n aanbieder op Pasella en 'n deeltydse model.
|
|