Standaard gestel – hou nou daarby
Louwrens Selzer
7/23/2010
Treine wat stad toe hardloop, gepak met Afrikaanse mense. Kaapstadstasie wat herinner aan ‘n besoek aan ‘n Europese stad. Strate so skoon dat jy daarop kan eet. En die middestad? Dis soos Milaan, Londen of Parys - idillies mooi, versier met toeriste teen die voet van Tafelberg.
Die regering het vir homself nou bewys en nou nou weet ons waartoe hy in staat is. Hierdie standaard van sekuriteit landwyd is eintlik nie sinoniem met ‘n derdewêreldse land nie. Maar tog het ons dit reggekry om misdaad skerp te laat daal.
Maar is dit volhoubaar? Natuurlik is dit volhoubaar. Hierdie vertoonvenster is aangewakker deur ‘n positiewe jeug, ‘n jong generasie wat hande gevat het en hierdie tydperk ondersteun het. Die druk op die regering is nou selfs groter as toe die bod toegeken is.
Daar was ‘n tyd wat ek gesukkel het met motivering in sport, dikwels het ek nie regtig in my spanlede geglo nie en ander tye het ek weer nie in myself as mens nie. Tot ek die dag beloon is met ‘n provinsiale rugbytrui oor my kop. Die ding is, nou was ek dáár. Nou het ek gewys wat in my steek. So ek het ‘n standaard vir myself en my span gestel. Daarom moes ek in myself glo en op my knieë bly.
Die volhoubaarheid van die afgelope Wêreldbeker is simbolies van ons as jongmense. Ons kan iets groot bereik, maar ons moet ook leer om die uithouvermoë te hê om dit volhoubaar te maak. Die regering moet die onkruid van korrupsie en swak dienslewering uitroei ten einde die mooi beeld te behou. Ek en jy moet ook vir onsself mikpunte stel. ‘n Nog beter jy. En daardie standaard behou. Maar alleen kan ons dit nie doen nie...
|
Louwrens Selzer
Louwrens Selzer is ‘n onderwyser by Laerskool Outeniqua op George. Hy skryf ook vir "Die Burger" en is besig om te studeer vir 'n graad in Regte. Hy hou van organiseer, bied spanbou-aktiwiteite aan en hou van roei, musiek, fietsry en rugby. Hy wil tieners motiveer om in hulleself te glo en om hulle drome na te jaag.
|
|