Soetgoed challenge
René Badenhorst
7/23/2010
Elkeen het ‘n swak plek. Daardie een ding waarvoor jy net nie nie “nee” kan sê nie. Ander versoekings is nie so moeilik om te weerstaan nie, maar as daardie een ding voor jou is, is daar vir jou net één ding om te doen: eet dit; drink dit; gebruik dit; vat dit; kyk dit; of doen dit, afhangende van wat dit is. Vir sommige mense is dit koffie, sigarette, sekere televisieprogramme (daardie sepies!), rekenaarspeletjies, Facebook, MXit, noem maar op. Vir my is dit soetgoed. As iemand vir my soetgoed aanbied sal ek dit feitlik nooit weier nie. As daar ‘n sjokolade in die kas is, sal ek nie rus voor hy heeltemal opgeëet is nie.
Tot hier toe en nie verder nie!, het ek besluit. Solank daar iets is waarvoor ek nie kan “nee” sê nie, is dit my baas, en ek het net één Baas. Vir ekstra motivering daag ek my suster uit om te kyk of ons vir 30 dae lank geen soetgoed kan eet nie. (Die ideale tydperk om ‘n gewoonte te breek is volgens die kundiges eintlik 40 dae.) In sommige opsigte was die 30 dae baie makliker as wat ek gedink het dit gaan wees. Ek het geweet ek hoef nie eens met myself te onderhandel oor of ek daardie lekkergoed moet eet of nie. Ek weet reeds wat die antwoord is: Nee!
Wat ek geleer het in die 30 dae: • Ek kán nee sê vir sjokoladekoek. Sommer al op Dag 2 van my soetgoed-challenge het my liewe vriendin spesiaal ‘n sjokoladekoek gekoop vir ons saamkuier. Al was dit moeilik het ek dit nie geëet nie. ‘n Paar dae later by ‘n ander geleentheid was daar wéér sjokoladekoek. Hierdie keer was dit makliker om nee te sê. Dit raak al makliker. • Ek kan lank oorleef sonder soetgoed. Wat vir my baie swaar en feitlik onmoontlik geklink het, is toe wel moontlik! As ek nou soetgoed eet weet ek dat ek nie meer ‘n verskoning het nie. Ek kán daarsonder klaarkom. • Hoe minder soetgoed ‘n mens eet hoe minder kry jy cravings daarvoor Wanneer iets jou in sy mag het, wil jy net meer en meer daarvan hê! Aan die ander kant – hoe minder soetgoed ek geëet het, hoe minder het my liggaam die suiker nodig gehad.
Tekens dat iets jou baas is: • As jy dit nie kan kry of doen nie, raak jy ongeduldig, geïrriteerd en onrustig. • Jy sê omtrent nooit “nee” daarvoor nie. • Jy doen dit of gebruik dit in oormaat (alhoewel dit nie noodwendig ‘n vereiste teken is nie). • Of jy bewus is daarvan of nie, betaal jy die een of ander prys daarvoor. Byvoorbeeld swak gesondheid of skade aan jou menseverhoudinge of jou verhouding met God
Wat is jou swak plek? Sal jy vir 30 dae daarsonder kan klaarkom …?
|
René Badenhorst
René Badenhorst is 'n vryskut-joernalis met 'n passie vir God, mense en die natuur.
|
|