Waterkaskenades
Vicki Fourie
7/23/2010
“Juffrou, kan ek asseblief toilet toe gaan?” vra die Gr 10 skoolkind versigtig. “Al wéér?” sê sy heelwat verbaas. “Dit is nogal dringend...”
Daardie blondekop meisiekind was ek, ses jaar gelede. En presies ses jaar later gaan ek nogsteeds kort-kort toilet toe vir dieselfde rede: ek drink baie water. Sommer emmers en emmers vol. Helder, skoon, vars water... (Nee wat, ek drink darem nie só baie nie! Ek sou al lankal verdrink het.)
Tog is dit my top prioriteit om soveel water as moontlik te drink. Elke liewe dag. Ek glo met my hele hart dat water is die blinkste, slimste skoonheidswenk wat ek ooit met iemand kan deel. Dít, en ‘n mooi glimlaggie is ‘n goeie teken van ‘n gesonde selfbeeld.
Dit is soms frustrerend wanneer ek by mense gaan kuier. Hulle sal vra, “Wil jy koffie of tee hê?” My antwoord is altyd, “’n Glas water sal heerlik wees.” Dan sal hulle met ‘n frons wegstap kombuis toe, net om en ‘n paar minute later terug te kom, “Soek jy eerder hot chocolate?”
Ons is grootgemaak met die idee dat water net vir belangrik dingetjies is, soos kosmaak, wasgoed was en swem. Maar water is eintlik die heel belangrikste vir ‘n mooi voorkoms en ‘n glansende vel.
Die rede hoekom ek as 16-jarige al klaar besluit het om gaskoeldrank en koffie heeltemal uit te sluit, was omdat ek die wonderlikste ding ontdek het: hoe meer water ek gedrink het, hoe meer het my vel geblink! En hoe meer my vel geblink het, hoe minder onderlaag en blush het ek nodig gehad. Hoe minder make-up ek gedra het, hoe meer klassiek en elegant het ek gelyk...
Dit het my ses jaar gevat om op tot ‘n punt te kom waar ek kon sê: “Sjoe, ek ís lief vir water.” Dit is moontlik! As jy jouself dissiplineer, sal die uitkoms so oorweldigend wees dat jy selfs melk sal wil uitsluit! Glo my, as jy vir ‘n week net water drink, sal jou vel ‘n vars, stralende voorkoms hê!
Daar is ‘n mite wat sê jy moet agt glasse water per dag drink, maar dit is nie medies bewys nie. Drink gereeld en drink aanhoudend. Elke keer as jy dors is of honger voel, drink ‘n glas water. Jy sal dalk kort-kort toilet toe moet gaan soos ‘n 16-jarige meisie wat besig is om iets skelms aan te vang, maar dit sal die moeite werd wees... Alles wat die moeite werd is, kom nóóit maklik nie!
|
Vicki Fourie
Vicki Fourie (20), Mej. Dowe Suid Afrika & Mej. Dowe HESC (Hoedspruit), gaan in Julie deelneem aan die Mej. Dowe Internasionaal 2010 wat in Las Vegas, Amerika, gaan plaasvind. Al het sy ongeveer 97% gehoorverlies, praat sy soos ‘n horende mens en sy lees lippe. Sy tree tans op by skole en besigheidsfunksies as motiveringspreker. Vir meer inligting, stuur ‘n email na: vicki@247mail.co.za.
|
|